Liewe vriende van die sentrum,

Die eerste dag van September breek aan – en ek dink vir die eerste keer in my lewe is dit ‘n pragtige lentedag in die Kaap! Dit is ook die eerste dag dat ek amptelik aangestel is as die nuwe bestuurder van die sentrum – baie dankie vir Badisa en die Beheerraad vir die vertroue in my gestel : ek glo en vertrou dat ek hulle nie sal teleurstel nie en dat my betrokkenheid sal bydra om die omstandighede van ons lede te verbeter.

Op die 4de ontvang ons vriende, vrywilligers en donateurs by ons Algemene Jaarvergadering en kan met dankbare harte terugkyk op ‘n jaar waarin ons Here se genade so oorvloedig was.

Ons het baie hoogtepunte beleef die afgelope maand : ons eerste binnenshuise sportdag , waar die lede in vier spanne teen mekaar deelgeneem het en baie pret gehad het; ‘n span het gaan deelneem by NGK Kenridge se sportdag vir seniors; inwoners van Edelweiss tehuis vir seniors het besoek afgelê en heerlike bederf geskenkies saamgebring; ons het ‘n stalletjie gehad by NGK Parow Welgelegen se uitreikmark waar die pragtige handwerk van ons eie “Arts en crafts” groep verkoop is. ‘n Lekker geldjie is gemaak, maar belangriker nog : nuwe mense kon hoor en sien waaroor die sentrum gaan en ons lede kon hulle talente ten toon stel en sommer lekker belangrik voel! En daar reën dit pienk melkies!: Dairy Belle laat weet ons moet ‘n donasie kom haal – wat toe al die tyd 800 x 6-pakke pienk melkies is. Almal loop met arms vol huis toe en ons het genoeg om ook vir die kindertjies van die Voorbereidingskool en die Laerskool uit te deel. Ek is seker die tande en bene gaan nou sommer baie langer hou met die kalsium “overload”.

Uiteindelik breek 27 September aan : die dag waarop ons heel eerste eerste familie pretdag gehou is. Vir maande lank het ons beplan en naels gekou, die inskrywings vir die bergfietsren, die pretstap en pretdraf het konstant ingekom, vrywilligers en selgroepe is opgekommandeer vir die bemanning van die kosstalletjies, toilette is gehuur en kopspelde is gekoop! Die dag breek aan en ons grootste vrees word waar : dit reën!!! Gelukkig het dit nie die trappers, drawwers en stappers afgesit nie en die grootste deel van die 306 inskrywings daag by D’Aria wynplaas op om te wys hulle skrik nie vir nattigheid nie. Alhoewel die kosstalletjies bietjie swaar gekry het in die reën, is die dag ‘n groot sukses, almal het baie pret gehad en ons begin reeds dink aan volgende jaar se pretdag. Baie dankie aan Medi kliniek Louis Leipoldt en ER24 vir hulle bystand.Kom vier die lente op 1 Nov om 10:00 by die NGK Kenridge, wanneer ons die laaste fondsinsamelingsfunksie van die jaar met ‘n “vintage” tee gaan vier – skakel gerus die kantoor vir kaartjies! Sien uit om almal daar te sien!

Groete, Margaret

Ruyterwacht Welcomes:

  • Any food donations
  • Cash donations 
  • Fuel and or vehicle maintenance sponsorship
  • Magazines and books
  • Furniture, bric & brac
  • Clothes
  • Art & craft supplies
  • Outings and experiences

 

Our Bank Details: 

ABSA Bank Parow

Branch Code: 632005, 

Cheque Acc.Nr: 390169582

 

All donations (cash as well as in natura) received are tax deductible through a Section 18 receipt issued by Ruyterwacht Senior Centre.

IMG_0014-300x225.jpg